IMAGES24.co.za / Fairlady

Wie is Ons

'n Kort geskiedenis van Via Afrika

In die eerste dekade na die stigting van die Nasionale Pers in 1915 was die publikasie van koerante die primêre fokus van die groep en het die uitgee van boeke nie baie aandag geniet nie. Resensies en polemieke oor skrywers en boeke het wel van tyd tot tyd in Die Burger verskyn.

Vanaf die jare twintig het die Pers egter 'n toenemend groter verskeidenheid boeke self uitgegee onder die embleem van die opkomende son, veral werke van Afrikaanse skrywers en digters soos Langenhoven, Leipoldt, Celliers en Totius, asook skool- en universiteitshandboeke.

Nasionale Boekhandel het in 1950 as 'n selfstandige onderneming met buite-aandeelhouers tot stand gekom, met die opdrag om boeke te publiseer en op sy eie bene te staan. Naspers se embleem van die opkomende son is deur die nuwe maatskappy met die volle son vervang, en daarmee het die dag gebreek vir Nasionale Boekhandel. Binne vyf jaar het die omset verdriedubbel. In 1973 word Nasionale Boekhandel 'n filiaal van Nasionale Pers.

Die jong onderneming het aanvanklik op skoolboeke gekonsentreer, maar die oplewing in Afrikaans 'n dekade later het gelei tot 'n stroom Afrikaanse literêre werke en later oornames van bekende uitgewers soos Tafelberg (1959), Human & Rousseau (1977), J.L. van Schaik (1986) en Queillerie (1996).

In 1992 het die behoefte om 'n belang te kry in 'n Engelse uitgewery gelei tot die oorname van Jonathan Ball Publishers, en in 1994 HarperCollins SA.

Oor die jare het die groep gegroei deur verdere diversifikasie, in naslaanboeke en woordeboeke, nog later boekklubs (Leserskring) en akademiese boekhandel (Van Schaik), in 'n stadium selfs skryfware en afstandonderrig, en meer onlangs godsdienstige boeke (Lux Verbi.BM) en distribusie (On the Dot).

Sedert 1992 het Via Afrika, soos die groep sedert 2000 heet, vinnig verander om aan te pas by die nuwe grondwetlike werklikhede van die land. Hierdie veranderinge is aangehelp deur die sg. onderwyskrisis in 1997/8. Maatskappye wat saam hoort is saamgevoeg (bv. Nasou en Via Afrika), nuwes is gestig en ondernemings wat nie deel uitmaak van die kernbesigheid van die groep nie, is verkoop of gesluit. Om na die behoeftes van voorheen benadeelde skrywers en lesers om te sien is die uitgewery Kwela in die lewe geroep, en die swart bemagtigingsgroep Thebe het 'n belang in Via Afrika se opvoedkundige ondernemings bekom.

Onder die hoogtepunte die afgelope 50 jaar tel die tipografiese en ontwerp-vernuwing van die groep se produkte in die sestigerjare, die skep van suksesvolle swart deelgenoot-maatskappy in die sewentigerjare, inhoudvernuwing deur die oorname van verskeie waardevolle fondslyste en titels oor die jare, die publikasie van groot getalle poësie-bundels en bloemlesings, die ryke oes van skeppende werke, in al die tale van die land, wat jaar na jaar met die hoogste literêre pryse bekroon word, en stelselvernuwing die afgelope jaar.

Via Afrika het in 1998 die nuwe wêreld van e-handel betree met die stigting van die Internet-boekwinkel Kalahari.net. Dieselfde jaar het Van Schaik Online al op die Internet met Unisa-studente begin handel dryf. Die volgende jaar word 'n elektroniese uitgewery, Contentlot, gestig.

Via Afrika het die afgelope jaar verder uitbeweeg in Afrika met 'n nuwe skoolboekuitgewery in Botswana.